Daar is oomblikke wat ons almal daagliks beleef – oomblikke van bang wees. Soms is ons bang om iemand te verloor, ons woning, iets spesiaal, of iets baie klein, soos om seer te kry.
Maar met Jo Black se nuwe enkelsnit “Ek Sal Nie Bang Wees Nie”, wat nou beskikbaar is, mag jy dalk ‘n bietjie ligter voel.
“Die rede hoekom ek hierdie liedjie uitbring, is omdat dit 13 jaar gelede ‘n groot impak op my lewe gemaak het. Ek voel nou meer as ooit dat dit tyd is dat mense hierdie boodskap weer hoor en ter harte neem. Daar is soveel vrees daar buite, maar ons moet besef dat ons nie bang hoef te wees nie,” vertel Jo.
Die liedjie is oorspronklik geskryf deur Joe Niemand. Hierdie nuwe weergawe van Jo is vervaardig deur Murray Lubbe. Met dié verwerking gaan jy sommer rustiger voel wanneer jy na ‘n lang, moeilike dag huis toe ry en hierdie lied in die kar aansit. Dit kan egter net so maklik jou dag ophelder wanneer jy op pad werk toe is.
Jy hoef nie meer elke dag so bang te wees nie.