DIT IS PURE LOF-POP WANNEER JY BEGIN LUISTER!

Eloff se debuut-EP getiteld ‘Hittegolf’ sal sekerlik hierdie somer die hitte na jou speellys bring. Op die hakke van twee top treffers, naamlik ‘Witblits’ en aanhanger-gunsteling ‘Johnnie Blou’, lewer Eloff ‘n dors-lessende skemerkelkie van treffende-beats en roomys-smeltende melodieë, perfek vir ‘n warm sonnige dag langs die swembad, ‘n strandpartytjie, of ‘n bosveldbraai.

‘Hittegolf’ bestaan uit Eloff se drie vorige enkelsnitte en vier splinternuwe snitte en ons laat vandag die kat uit die sak en vertel jou waaroor gaan elke nuwe snit.

‘ATKV’ gaan verseker die sokkie van voor af aan die gang kry. Die beste akroniem om te beskryf wat Afrikaanse meisies uniek maak. Ricus Nel voeg ook oemf by die enkelsnit met sy Boerepompie. ‘ATKV’ is die perfekte Afrikaanse-somerlied.

Het jy geweet Eloff is ‘Groot in Korea’? Hierdie tropiese somerkonfyt pas perfek saam met ‘n Piña Colada of ‘n Buffelsfontein brannewyn.

In ‘Swipe Regs’ is Eloff daarop uit om die perfekte pasmaat te vind. Dit is ongetwyfeld ‘n perfekte pasmaat vir die EP en het die duidelike Eloff-popklank waarvan aanhangers begin hou het.

‘Bottervingers’ wys Eloff se ware vokale vermoë en emosionele kant met ‘n geromantiseerde, Harry Styles-geïnspireerde nommer. Dit sal verseker die harte laat smelt.

Daar is net een manier om hierdie klank, hierdie sensasie, hierdie gevoel, hierdie ‘Hittegolf’ te beskryf. Dit is Lof-pop!

Vir Meer Inligting:

[email protected]

© 2022  SELECT MUSIEK | ‘N AFDELING VAN SONY MUSIC ENTERAINMENT (PTY) LTD. ALLE REGTE VOORBEHOU.

SiteFooter