WANNEER ALLES WEERLOOS IS, VERHOUDINGS INKLUIS, KIES ONS LIEWER OM KLIPPE TE KOU - SELFS HULLE KAN VERKRUMMEL MET YSTERTANDE" - JACK & JUNE
Jack & June is die real deal. Ek kry sommer trane in my oë. ‘Klippe Kou’ het ’n Boere-pop baadjie aan, maar daar is ’n subtiele vernuf in die musikale ambag wat lewenservaring en bo-gemiddelde vaardigheid verklap.
Werner en Jacqueline is geen vreemdelinge tot die musiek wêreld nie. In werklikheid toer hulle al die land plat onder afsonderlike skuilname vir donkie jare. ’n Gesoute oor sal die selfbeheersing van virtuose wat hulself inhou optel. Die timbres is net kwaliteit. Pure klas. Egtheid spoel by die luidsprekers uit. ‘Klippe Kou’ bars uit sy nate.
Dit is nie verbasend dat hulle die opdrag spyker op die kop geslaan het nie, maar nooit het ek gedink dit sal so genotvol wees om te hoor hoe twee kragstasies hulle onbeteuelde talent in toom hou nie. Die stroopsoet multi-geslag harmonieë van frase een af laat ons duidelik weet hulle is hier vir besigheid. En daai besigheid is om die gepoeierde skuurvloer stof te laat staan.
Die paartjie het seker iets teen voete, want voete gaan verseker blou gestamp word! Dis die liedjie wat jy speel as jy nog baie hout op die vreugdevuur wil gooi na die braai. Dis pakkend en opbeurend. Ek kan nie help om die vergelyking aan Johnny Cash en June Carter te maak nie, maar gooi so bietjie ‘Cotton Eye Joe’ in en dan is ons amper daar. Werner en Jacqueline is in die werklike lewe getroud, bly op ’n plaas en Werner se hande is werklik hard van houtwerk. Hy wil regtig nie dorp toe gaan nie, maar hy doen dit vir haar!
As twee toerende musikante met ’n gesin het hulle in die grendeltydperk ’n nuwe wese in hul kroos verwelkom en ek kan myself net indink dat dit nie maklik was nie. Maar jy moet “Ystertande hê om klippe te kan kou” volgens Jacqueline. En hulle kou daai klippe met ’n glimlag, ’n knip-oog en ’n lyndans.