OF JY NOU 'N MAN OF 'N VROU IS, ALMAL IS 'N LEKKER OU!

Jan Jan Jan is terug met ‘n mini album waarop twee splinternuwe liedjies gehoor kan word. Kort op die hakke van “Braaf soos ‘n Boerboel” wat vroeër vanjaar in samewerking met Helpende Hand se Tassie Projek uitgereik is, keer Jan Jan Jan terug “Hy is ‘n Lekker Ou”.

Getroue en nuwe Jan Jan Jan aanhangers kan uitsien na ‘n enkelsnit wat nie net die voete sal kielie vir ‘n rondte op die dansvloer nie, maar ook dadelik ‘n ou bekende Boeremusiek treffer se klanke sal erken wat hierin saamgesmee is.

Boeremusiek pas goed in by Jan Jan Jan se musiekstyl, en ons is opgewonde om saam met die publiek weer ‘n lekker kuier aan die gang te kry” vertel LangJan. “Almal van ons is op die ou end ‘n “lekker ou” teen spyte van waar ons vandaan kom, Afrikaans maak ons vanselfsprekend lekker mense”.

Beide ‘Hy’s ‘n Lekker Ou’ en ‘Wat as hierdie liefde is’ is onder andere deur MooiJan en die Boerboel Wear en Select Musiek-span geskryf. Laasgenoemde is ‘n liedjie wat die storie vertel van hoe vriendskap soms lei tot romantiese liefde met ‘n lekker country verwerking. Almal smag mos maar na daardie perfekte een!

‘Beautiful in Beaufort-Wes’, wat deur wyle Theuns Jordaan bekendgemaak is, word afgestof met die Boere-boyband se unieke styl as huldeblyk. KleinJan verklap dat “dit ongelooflik was om dié treffer te kon vertolk op die album. Beautiful in Beaufort-Wes is volkbesit en daarom bly dit ‘n voorreg om hulde te bring aan Theuns, deur sy musiek te laat voortleef deur ons eie interpretasie daarvan“.

As ‘n bonus het die Janne ‘n paar ander treffers ‘n ‘Janne-baadjie’ aangetrek in die opskop “Jan Medley” treffer. Hierdie ou gunstelinge is meesterlik saamgesnoer in Jan Jan Jan se unieke styl en alreeds ‘n groot treffer by hulle vertonings. Nostalgie het nog nooit so lekker geskop nie.

“Hy’s ‘n Lekker Ou” word op Vrydag, 5 Mei saam met die nuwe album vrygestel, waarna die musiekvideo daarvan op Woensdag, 10 Mei op alle relevante sosiale media platforms beskikbaar sal wees. Die publiek kan uitsien om lekker saam met Jan Jan Jan te lag en te deel in hulle interpretasie dat elke Afrikaanse persoon, man of vrou, eintlik “’n Lekker Ou” is. Meer daaroor kan ons nie nou uitlap nie, behalwe dat die tannies terug is – met ‘n karavaan en gewapen met ‘n verkyker en breipenne!

Ontmoet ook ons nuwe tannie, Tant Sêrra in hierdie komiese nuwe musiekvideo wat beloof om vir baie vermaak in die huis te sorg.

JJJCover

HY'S 'N LEKKER OU

JAN JAN JAN (Vanaf "Braaf" EP')

Vir Meer Inligting:

[email protected]

© 2022  SELECT MUSIEK | ‘N AFDELING VAN SONY MUSIC ENTERAINMENT (PTY) LTD. ALLE REGTE VOORBEHOU.

SiteFooter